
Sal ek op die stoep sit -, of op die bed lê en lees;
dit maak weinig verskil,
want die see is turkoois en wit agter die blaaie van my boek
ongeag na waar ek, met swaar oë myself verplaas -
ek is steeds net 'n gedagte weg van alles en almal wat my dae vul
met eindelose eise en keuses en beramings;
maar vir nou vul die ruising van branders op rots en sand die vakuum wat dié ledigheid laat,
terwyl woord en vers my sus tot 'n berusting
in die onafwendbaarheid van wat is, en was, en sal wees,
van nou af, tot in alle ewigheid,
Amen.