Tweede versposing (Keurboomstrand)

soos selfbemagtigde car guards sirkel seemeeue opdringerig nader,
terwyl die laaste paar hengelaars vir oulaas hulle vislyne inkatrol,
en hul ongebruikte aas as almoese laat, op die ronde rots
wat al reeds lang skaduwees werp oor die droë sand,
waar die duisende voetspore van die dag weer,
sonder enige waarneembare doel of patroon,
soos afdrukke van flietende gedagtes,
wag op die koms van hooggety,
om met spierwit skuim,
alles skoon te vee
— tot môre dan
miskien...
d.v.