Ode aan ’n Waboom

As ek 'n boom,
iewers in 'n woestyn,
of in 'n rotskeur
vind groei,

dan vlug ek in gedagte
na die veewagter Moses
en die braambos-vuur
wat ewig gloei;

en as ek verby die fisiese manifestering
van die boom waag blik,
en die innerlike lewenskrag,
die Prana – die Qi, in my geestesoog skik:

en te sien, die onuitbluslike vuur van wéés -
wat drifdig deur eeue heen,
die ongenaakbare klimaat ten bes,
met knoetskige wortels steeds geanker is —

om dan, as die seisoen hom voordoen,
weer uit te bars
in 'n uitdrukking van louter vreugd —

om net te wéés,
vir niemand om te sien
of te waardeer,
slegs maar om uit te roep:
Ek Is!

En ek, ...
ek moet ek die skoene van my voete trek,
op dié heilige grond waar ek net in stilte mag staan —
'n stotteraar wat nie woorde wis,
in die teenwoordigheid van dit wat ewig is.