
daar bo by die hoogwaterlyn
waar sand teen die kreupelhout duin
en vet vygies gedy in fel sonskyn
kniel ’n knoetsige dryfhout soos die “Dagga-roker” van Anton van Wouw
voor ’n koeëlronde spoelklip met ’n strepie om sy middellyn gevou
digby ’n skulp, so half verskuil onder die sand,
met springgety en die ruising van die see, in sy spiraal daar gestrand.
So word ek onwillekeurig gelei om wiskundige dimensies te formuleer,
betekenis en doel op my omgewing te projekteer,
en met duisend gedagtes wat malend opkom
oor die skulp, die see en die pers vygieblom,
en met al die ander objekte wat ek om my beskou,
het ek die Buddha se “Les Sonder Woorde” onthou.
Daar langs die dryfhout, skulp en klip, in fetale posisie gekrul,
het ek met die reuk van see en sand my longe diep gevul;
wyl die rasende branders om my verstil en my van gedagtes verlos —
ek, ’n opdrifsel, ’n houtjie wat kniel, in die eindelose kosmos