Tao van die Dassie (Kampsbaai)

Bakoven se dassies sit in klossies en wag vir die son se vroeë strale
op ronde rotse wat soos olifant-rûe in die vlakwater dyn —
die ronde rotse wat die twaalf vir hul gegee het;

Pretensieloos, uitgestrek in die oomblik, waarvan lêplek is ruim
en hulle hoef nie mekaar se son te steel —
op die ronde rotse wat die twaalf vir hul gegee het;

Blinkvet van groen gras, pienk vyge en geel gousblomme,
wat in die sanderige skure groei —
van die ronde rotse wat die twaalf vir hul gegee het;

En tussen die uit skuim wat in slierte soos cirrus-wolke op die water sterk,
dobber see-bamboese soos duisende baaiende dassies —
blinklyf tussen die groot ronde rotse wat die twaalf vir hul gegee het;

Nog die swart oestervanger, skril in verbyvlug,
nog die stampende stoet van son-soekers, wat angstig 'n digitale oomblik kaap,
versteur die sluimerende satori waarin hul die twaalf se seëninge tel.