
Swartboskloof is kaal gebrand —
van die valskerpte, bo die Helderberg-kom
tot onder waar roet en dooie gediertetjies in die Eersterivier kolk
asof hul traag afskeid neem van wat was — wat hulle was;
wyl die rook van smeulende boomwortels poog om ’n sluier te trek
oor dit wat nou in swart naaktheid onthul lê
met slegs die rotse wat steeds bakens bied
in die fraktaal gekarteerde leegheid,
denkbeeldig omlyn deur verdere klowe
Kurk-trekker en Assegaaibosch
Swartboskoof is geklee in blomme-prag —
Watsonia en Aarons-lelies
weerbarstig uit die steeds geskroeide bodem
kleur die kloof met die belofte van die bloeityd wat kom,
stilweg bevestig deur ’n groen uitloopseltjie
uit ooglopend veskroeide Waboom
Varings omlyn die silwer stroompies wat oor mosbegroeide klippe bruis
Jou hart spring met vreugde oor dit wat intuitief nuwe lewe blyk te wees
Tog die kloof weet nie van meer as die ewige oomblik
waarin hy die leegheid en volheid is
Swartboskloof, met sagte groen rondings wat oor die wonde en wande vou
met alles wat kloof is
onverdeeld en kontinu met alle klowe
in die Goddelike bewustheid van
nooit geledig, nooit vervuld
altyd volmaak
en roep:
EK IS die Alpha en die Omega!