
vanoggend
terwyl ‘n skoolklok ievers in die verte vir kort-pouse lui,
het ek my op ’n grasperk
tussen skoppelmaaie, rondomtalies en wipplanke neergevlei,
op magrietjies wat soos vroeg lente kapok,
wit en onbeteuld oor die veld wyd strek
met hier en daar 'n kolletjie geel suringblomme
wat in die sonlig jou aandag sal trek —
hier waar klein voetjies en stootwa wiele die blommietjies trap
en ou mense met ou honde in die voetpaadjies stap
kon ek die reuk van klam grond en nat populier blaar
diep in my longe teug
en in die sambreel sampioenjies
wat deur dennenaalde beurs,
my siel verheug
soos in ’n droom kon ek my ledemate voel smelt
onder die oggend son en die lug se blou
en toelaat dat hierdie ou aarde my sag omvou,
en weet dis reg —
soos die magrietjies
was ek gister hier,
maar nou is ek weg