
vanoggend
terwyl ‘n skoolklok iewers in die verte vir kort-pouse lui,
het ek my op ’n grasperk
tussen skoppelmaaie, rondomtalies en wipplanke neer gevlei,
op magrietjies, goud gespikkel soos ysterpiriet,
wat en onbeteueld oor die veld wyd strek
met hier en daar 'n kolletjie pers blomme
wat in die sonlig jou aandag trek —
hier waar klein voetjies en stootwa-wiele die blommetjies trap
en ou mense met ou honde in die voetpaadjies stap
kon ek die reuk van klam grond en nat populierblaar
diep in my longe teug
en in die sambreelsampioentjies wat deur dennenaalde beurs,
my siel verheug
soos in ’n droom kon ek my ledemate voel smelt
onder die oggend son en die lug se blou
en toelaat dat hierdie ou aarde my sag omvou,
en met diepe oortuiging te weet dit is reg —
soos die magrietjies
was ek gister hier,
maar nou is ek weg.