
Sê die wat plas vir die stroompie:
"Ek's so bevooreg,
in die holtetjie waar ek my beland,
dit is pasgemaak vir my
ek vul hom van hoek tot kant".
maar die stroompie sê niks –
hy vloei stil om die draai…
Sê die wat plas vir die stroompie:
"Jy hou jou verniet so waardig
daar waar jy kabbel en bruis,
ek's ten minste veilig –
met wie mag jou paadjie dalk kruis?"
maar die rivier sê niks –
hy spoed luid oor die val…
Sê die wat plas vir die stroompie:
"Ek mag wel verstaan
onder die son se bakkende baan,
maar ek lê nou al so lank,
ek’t nêrens beter om te gaan"
maar die see rus net –
in haar ewige bestaan.