
*Sonnet aan ’n Wilde Olyf*
ek knik my kop in diep erkentlikheid
teenoor die ou gevalle Olienhout
wat na winde en weer en vuur ten spyt
deur ’n natuur-frats tot eie behoud
met sy wortels wat strak aan rotse klou
is hy kans tot verdere groei vergund
en hier vanuit my perspektief beskou
homself nou knielend in gebed bevind
ek reik uit, aan sy ruwe stam te raak
om dan so stil sy aandag te kan trek
en te vra dat hy saam met my sal waak
soos Jesus sy disipels eens moes wek
en in ootmoed vir dît wat op ons wag
“Laat U wil geskied, o Vader” — ongeag