In Absentia (Stellenbosch se Moegoes)

aan julle wat ver is,
noudat ek nie meer daar is,
moet 'seblief tog nie vra
om my in die hiernamaals te pla,

want as julle my soek, dan sal jy my kry —
in Jonkershoek, by die brandhut verby
waar Swartboskloof se stroom ons dors sal kwyn,
op die bergpad waar die middagson op ons blaaie sal skyn,
in die Eden se kloof waar mos en varings die wande begroei
in die koel skadu van die waterval se sproei,
aan Botmanskop se voet, as die sakkende son oor tafelberg hang,
langs Idasvallei se damme, as die piet-my-vrou ons roep met sy sang -

hier het ek jul in my hart saam gedra
as als soms te veel was
of soms net as vreugde dit vra

maar jul sal moet uiithaal om by te bly
want ek draf nou losvoet,
want ek is nou vry