
#
'n Wolkie verkleur van grys na goud
en steek die berg se ruglyn aan die brand,
die vlenter maantjie skyn yl en koud;
die aarde tol in sy baan, byna asof so bepland?
*Om te weet, of om te wonder? Dikwels is ons wete, hetsy gegrond in wetenskap of geloof, 'n skydsmuur wat ons ontneem van die ervaring van wonder (verwondering). Interessant dat die woord 'wonder' twee betekenisse het - 'n bekentenis van onsekerheid en die belewenis van die onmeetbare.
Ek verwonder my aan die skoonheid van van die nuwe dag wat breek, wetend dat die refleksie van sonlig op wolke, berge en maan en die kleureprag wat dit skep, bloot net is as gevolg van die polarisering van elektrone in water molekules deur fotone wat in die kern van ons plaaslike ster, die Son, uitgestraal is - waar waterstof-atome saamsmelt om helium te vorm, met ’n klein hoeveelheid residuele energie in die vorm van fotone - word lig voortgebring wat etlike duisende jare neem om die oppervlak van die Son te bereik, en daarna nog om en by 8 minute en 19 sekondes om die Aarde se atmosfeer te bereik, terwyl die Aarde, as gevolg van die massa van die Son wat ’n kromming in die ruimte-tyd veroorsaak, in ’n ellips om die Son wentel en elke 24 uur om sy eie as roteer, om sodoende die illusie van ’n sonsopkoms te skep.*