
Rachmaninov - ’n Rapsodie op ’n Tema van Paganini —
die inleiding tot “Die du Plooy’s van Soetmelksvlei”
Herinneringe vloed my gemoed
van ’n tyd so lank reeds verby en tog so maklik herroepbaar;
Ons gesin voor die radio,
Na die gedwonge stilte van die “Nuus om Sewe”
En die eerbiedige stilte vir “Laat ons Boeke Vat”
Luister ons saam na die wel en wee van oom Kobie, tant Hybie en ou Bartel
Elkeen in die stilte van sy verbeeldings wêreld
Dan bed toe waar ek lê en luister hoe Pa sy “Tromp van Diggeling”-oefeninge doen — in stilte
tot die kwart-voor-tien alarm ons laat weet;
“Die ongewenstes is van die strate — alles is nou veilig”
… snaaks want ek het nooit onveilig gevoel in daardie huis