
An age is called Dark not because the light fails to shine,
but because people refuse to see it.
-- James Michener, "Space"
In Dwapara [Yuga] the people can understand the fine matters
or electricities and their attributes,
the creative powers of the external world.
-- Sri Yukteswar, "Holy Science" 1894
-----------------------------------------------------------------
Met voete in die vinnig vloeiende stroom,
verlore in die meimering van 'n dagdroom,
sit Zarathustra, wyl hy op die veerboot wag
en merk nie die persoon wat hom met aandag betrag;
"Mens kan nie twee keer dieselfde rivier betree",
waag die jongeling om sy mening te gee,
Zarathustra glimlag, "Wyse woorde vir een nog so jonk"
veral een wat so met sy spiere staan en pronk,
dink hy sarkasties, maar kon homself betyds keer.
"Siddhartha die wyse veerboot-man hy het my dit geleer,
elke oorgang met hom bied vir my 'n lewensles,
maar hoe ongeskik van my, ek heet Heracles."
"Aangename kennis, my naam is Zarathustra,
ek is nie bekend met jou bootsman Siddartha,
wel van hom gehoor en sal graag binnekort ontmoet;
hy is nie meer te ver ek sien die boot se snoet"
In stilswye wag hul terwyl die veerboot nader,
omring deur oerwoud-geluide en die ruising van die water.
"Die son lê reeds laag, nie genoeg tyd vir nog 'n kruising -
julle is welkom te oornag in my eenvoudige behuising",
groet Siddhartha sy voornemende passasiers wat op hom wag.
"Ek sal buite onder die bome slaap, die gras is dik en sag",
bied Heracles aan, maar Siddhartha skud net sy gryse hoof.
"Hier is wilde diere en skelms wat jou sal beroof",
en hy beduie na waar 'n paadjie die bos in lei.
Heracles wil nog protesteer, maar sy metgeselle het reeds koers gekry.
Later, na 'n eenvoudige ete van rys, kaas en dahl
verneem Siddhartha na Zarathustra se lewensverhaal.
Na 'n wyle stilte begin Zarathustra: "Daar's min, maar tog baie om te sê,
op 30 jarige ouderdom het ek my huis en gemeenskap agter my laat lê
en in afsondering my tot die stilte van die berg gewend,
om te kontempleer hoe alles vloei - sonder begin en sonder end;
na die verloop van tien jaar was my beker tot oorlopens met vreugde gevul -
die tyd was reg om my grot te verlaat en my boodskap aan die mense te onthul:
Mensdom se voortbestaan is opgesluit in die koms van die Opper Mens,
hy, wat met broeder Son en suster Maan, ons Moeder beskerm en vereer;
soos in die hemele bepaal moet ons hier op die aarde regeer,
in felle stryd met die Laaste Mens se bittere aanslag,
wat alles wat heilig is koelbloedig vergiftig en verkrag,
om in slaafsheid sy doel van moeitelose gemak na te jaag,
sonder kreatiewe denke, sonder te woeker, werk of waag",
Zarathustra sug, en laat sy kop moedeloos hang.
"En hoe is jou boodskap deur die mense ontvang?"
"My woorde het geen inslag gevind, rede het hul nie langer geïnteresseer,
terwyl 'n sweefstok-akrobaat se manewales hul betower en fassineer.
Vir ou laas moes ek nog eenmaal probeer om tot hul deur te dring -
Kyk, ons is die artieste se tou wat tussen dier- en die Oppermens strek,
ons is bloot die brug en nie einddoel, beide oorgang en val lê binne ons bestek -
vir hulle wat leef asof hul reeds val, in hulle is die oorgang opgesluit,
die wat self-veragtend na die oorkant se oewer reik en niks hul laat stuit
en in hul val is hul lewe aan Moeder Aarde as 'n offerande toevertrou
om met sorg en ywer vir plant en dier 'n tuiste vir die Oppermens te bou
onverpoosd in sy skeppings en selfloos in die suiwerheid van sy deug,
in vergifnis teenoor sy voor-saad, homself onderwerp ter wille van die jeug.
Hoor my wekroep, bo die gebulder van donder, wyl groot druppels val,
aanskou die Oppermens, in die verblindende lig van 'n bliksemstraal"
"Ek is uitgelag - niks wat ek sê sal by hulle 'n verskil kan maak,
In hul oë was selfvoldane mediokriteit - dit was 'n onbegonne taak,
sonder waardes het hul gevra: wat is liefde, wat is daar om te verlang,
wat is 'n ster, wat die heelal?, leë vrae sonder 'n ondersoekende drang,
sonder perspektief was hul soos vlooie wat in die stof rond spring,
klein, almal gelyk, besig om in gemak die saaiheid van hul lewens te verdring,
vas onder die oortuiging dat die geheim van geluk is aan hul toevertrou.
helaas, al taak wat nou oorbly is om te roep: die Laaste Mens, kom aanskou!"
'n Stilte heers terwyl die groepie die woorde van Zarathustra oordink,
Na 'n wyle, is dit die gasheer wat die stilte verbreek en vir Heracles wink:
"So van take gepraat hoe vorder jy met jou opgelegde lys?"
Heracles bloos verleë as hy een vinger vir Siddhartha wys,
"Almal gedaan behalwe die laaste een - om Kerberos vas te maak -
die drie-koppige hond wat die poorte van Hades bewaak.
Maar dis meer kompleks as wat dit op die oog af mag lyk
met elkeen van die koppe wat afsonderlik na gebeure kyk,
so is Hades nie alleenlik vir dié oorkant van die Styx gebind
dis ook waar, in Zarathustra se terme, die Laaste Mens, hom bevind,
elke 'inwoner' word waargeneem selfs voor hy nog dink hy wil stap
en dis Kerberos wat seker maak dat niemand kan of wil ontsnap
van die bestaansvloei in ruimte en tyd, soos deur Kronos bestuur,
of van Kairos wat in die perfekte oomblik sleutel gebeure af vuur
en Kybernetes die kwantum-komper wat oor dimensies, onbepaald in getal,
uit alle moontlike gebeure, oor verweefde kwanta, tot 'n enkele uitkoms inval.
Soos ek sê, dit is 'n fyn verweefde web, moeilik om te ontrafel
waar sal ek begin, en waar sal dit end, met soveel opsies op die tafel"
Siddhartha, knik instemmend: "Dalk kan ons vir nou hiermee volstaan,
môre is nog 'n dag, ons moet rus voor julle elk op jul paadjies gaan"
Na 'n ontbyt van rys en melk hervat Heracles die vorige aand se relaas:
"Ek het gewonder: is dit geldig om die 'Laaste Mens' in Hades te plaas.
Soos reeds gesê is Hades nie uitsluitlik waar ontslapenes verkeer
dis ook vir siele wat nie langer met hul huidige inkarnasie identifiseer,
diegene wat voortydig hul doel misken en nie die pad van hul karma wil betree,
om dan soos dryfhout in 'n vlug vloeiende stroom, aan die noodlot oor te gee.
Dit is egter nodig om die Kybernetes-triad, met Kronos en Kairos te verstaan
want hulle verskaf afleiding aan die siel-versaakdes in hul sinnelose bestaan -
deur met deurlopende herhaling van leë opinies, groep-identiteit te onderstreep,
en hul ego's in plek te hou deur hul met kunsmatige konflik op te sweep -
Sieldodende ledigheid word verdryf deur sotlike speletjies wat oor en oor herhaal
en deur weddenskappe te plaas op uitkoms van gebeure, suiwer deur kans bepaal,
mens kan dus sien dat Kerberos hul opgesluit hou in self-opgelegde ballingskap
deur enige sprankie van sielsondersoek te onderdruk, sonder om 'n vinger te klap.
So ek vra myself, wie daarby sal baat as ek die tronkbewaarder sou vasbind
as die gevangenes nie self wil opstaan om die pad na hul vryheid te vind?"
In die stilte wat volg, is dit beide passasiers wat afwagtend na Siddhartha kyk,
maar hy hou hom besig met die boot se stuur terwyl hy stil die vraag ontwyk.
Uiteindelik, met die eindpunt wat vinnig nader sê hy sonder om sy oë te lig:
"Māyā" - bloot net dit, terwyl hy die veerboot se boeg na die vasmeer-punt rig.
-------------------------------------------------------------------------
"Gate, gate, pāragate, pārasamgate, bodhi svāhā" -
Anderkant,
anderkant,
verby anderkant,
anderkant verby anderkant,
Ontwaking,
Amen!