Plotselinge aanvang van nihilisme

Daar is ’n kamer in die gang
met ’n misterieuse beklemming wat om hom hang.
Ek stap daagliks daar verby,
waar, deur ’n skrefie, die donker swart van niksheid lokkend roep tot my.

Van tyd tot tyd het ek my al daar binne bevind —
daar waar die nodeloosheid van menswees soos ’n muf kombers jou vasbind,
wanneer sensoriese fenomene jou sintuiglik verswelg
en die bewustheid van onkunde jou opgegaarde kennis eensklaps delg:
Hoekom is die heelal tog só groot — so gering die deeltjie wat ons kan meet?
Wat help dit om niks van alles en álles van niks te weet?
Van waar die soeke na betekenis en doel,
waar jy aan dryfhout klou terwyl twyfel soos ’n tsunami oor jou spoel?

Om dan maar net weer te besef —
ek het geen basis om my eie self te wil verhef,
en met deernis en in ootmoed vanaf dié donker plek terug te keer,
want daar is baie kamers in die huis waar ek tans loseer.