Belydenis van 'n voetsoldaat

Vreemd wa die vrede van Kersfees-dag;
vreemd weens die klank van "Stille Nag"
oor lippe wat gewoonlik vloek en skel
as daar bomme bars in vlammende hel.

Maar die volgende môre het ons weer aangeval -
die vrede verbreek met gewere se knal;
die kalmte en rus van vier-en-twintig uur
is vinnig verteer deur bloed en deur vuur.

Orals was haat en orals was nyd,
oral die reuk van brandende kryt
met die redelose oer-drang wat in my tier,
my verstand verdof en heers oor my spier:

Skielik uit 'n hut storm 'n kind,
maar hy hy't nie ver gevorder voor my visier hom vind;
en toe sy liggaam rukkend in die stof neer val,
wip uit sy handjies 'n sokkerbal.