Waar rus is

Middernag -
klokke sonder klepels lui klankloos in my kop
en weergalm die oproep: "Kom laat ons na die huis van die Here gaan"
om daar in die gemeenskap van mede doof-stommes
op my bors te slaan: "nietig, nietig, nietig is ek"
maar dit klink hol, geyk en sonder sin
hier in die stilte van die kapel
waar 'n sagte wind van buite
die kerse fladder wyl die klokke ritmies, wiegend in stilte roep
na almal wat moeg is